Nikki Wilken – The Author

Wel… Dis Maandag en hier is ons by Treeferns. Dikbek, moeg en voetseer.  Nee, ek is genadiglik nie halfpad afgelaai en moes maar loop nie, maar kom ek begin by die begin.  Die mense wat weet sê mos ‘n storie moet ‘n begin en ‘n einde hê.

‘n Week gelede begin manlief karring hy wil kom visvang. Ons was al voorheen by Treeferns, maar ek steek viervoet vas.  Visvang en dit begin koud word!! Bid jou dit nou aan. Hoekom sou ek wil saamkom – ek hou nie van visvang nie en ek wil niks weet nie.  Die huweliksvlammetjie begin laag brand en ten einde laaste kom ons tot ‘n vergelyk – 4 dae vang hy vis en vier dae gaan ons wildtuin toe.  Siedaar, altwee is tevrede en huweliksvrede vier weer hooggety. Die gemors is net dat ek 6 weke terug my enkel gebreek het. Ek glo nie ek is te kleinserig nie, maar seer bly seer en as seer nog by ‘n befoeterde vrou gevoeg word is dit ‘n resep vir ‘n totale gemors. Dus… dikbek, moeg en voetseer kom ons toe 5 uur die middag by Treeferns aan.

Een troos, vier dae en dan kan ek vakansie hou… Pas afgepak en siedaar, Manlief storm reguit water toe. Is dit nou die dank wat ek kry nadat ek besluit het om saam te kom? Dikbek het pas ‘n nuwe betekenis gekry! Sommer binne die eerste halfuur is daar twee visse gevang. Manlief is seker dat gaan ‘n goeie week wees ,maar ek nie.  Net so seker as wat ek weet ‘n mot het tande, so seker is ek dat vis se kind my met beskuldigende oë aankyk as hy geslag moet word. Ek vra myself die vraag af of ek dan nou geslag word elke keer wat ek ‘n stukkie sjokolade vaslê? Nee… en hier steek ek viervoet vas – geen vis sal geslag word nie. Later die aand gaan slaap ek maar, koud en moeg… maar manlief moet nou eers die vliegies en brommers en sprinkane en die joos weet wat nog uitpak en bekyk. Het ek genoem dat dikbek pas ‘n nuwe betekenis gekry het?

Dinsdag oggend en kwart voor 6 vlieg hy uit die bed om die visse te gaan ontmoet. Vir wat? ‘n Geheime vergadering waarvan ek niks mag weet nie?  Dit is ‘n onmoontlike uur van die dag!!! Wel, die een vis na die ander word gevang, maar genadiglik weer terug gesit in die water.  Sonder ‘n sweempie simpatie vir my seer voet en baie eensaam gaan sit ek maar op die stoep (om te broei oor my omstandighede sien?). Maar algaande raak ek kalmer, begin die koppies voor my ‘n vreemde bekoring kry.  Sien ek daar ver tussen die wolkies engeltjies wat lag en speel? Is dit ‘n silwer rantjie wat ek daar aan die westekant sien? Skielik hoor ek die voëls wat opgewonde kwetter, die vreugde in manlief se oë wanneer hy ‘n vis vang kry nuwe betekenis, die eende en selfs die kat wat kom kos soek, is ‘n plesier.  Ek wonder (net soms) wat aangaan, ek is nie meer ongelukkig omdat ons moet kom visvang nie, ek kan inteendeel nie meer wag vir die onmoontlike uur soggens nie.

Toe… gebeur dit wat almal wat my ken nie sal glo nie.  Manlief draai sy rug en ek gryp ‘n visstok en laat nael af water toe. Eers slaan ek amper my arm af in ‘n poging om die lyn in die water te kry.  Komaan, hoe moeilik kan dit nou wees?  Dit lyk dan so maklik.  Dan foeter ek amper in die dam, maar haal diep asem en probeer onthou hoe hy dit doen. Uiteindelik is die vliegie of was dit nou ‘

Wel, dis donderdag en agtien visse later. Ek het my eie persoonlike vis gevang (die foto is hiermee saam vir bewys edelagbare!). Ek het vrede in my hart, my voet is baie beter en ek het viskoors!!  Niemand gaan dit glo nie – die minste van almal ek!  Dikbek begin ek die tasse vir die volgende 4 dae van ons beplande vakansie pak. Wie se simpel idée was die wildtuin anyway?

Maar ek betrap myself dat ek uitsien na die volgende visvang sessie, want ek het geleer om vis te vang is om skoon te maak binne, die blink water is God se manier om jou te leer dat die lewe soms woes is, maar as jy lank genoeg stilstaan, sal alles in jou tot ruste kom. Ek beny my man die lewensles wat hy voor my geleer het. Die natuur is so wyd soos die Heer se genade en net so groot, jy moet net hoor waar om te soek…Skielik maak die woorde van George Washington Carver vir my sin:

Ek dink aan die natuur as radioseine sonder grense;

Waardeur God elke uur met ons praat -;

as ons net op sy golflengte wil inskakel om te luister.

George Washington Carver

Eers dan besef ek, met die Vader aan die stuur, het Treeferns meer as net my voet gesond gemaak…

Nikki Wilken

Comments are closed.